Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Fred de Vries

@ Sunday Times Books LIVE

interview/review boekeinsig

Please read the interview/review/essay that Andries Bezuidenhout wrote following the publication of ‘the fred de vries interviews’

http://www.insig.com/nuus/nuus_artikel.asp?iID=69

Or, if you don’t want to click, see below

Die Fred de Vries-onderhoude: tussen die mark en integriteit
Uittreksels | September 2008

Newtown is die hart van Johannesburg. Dis hier waar die Markteater is. Net om die hoek was die Vrye Weekblad se kantore. Deesdae dien die gebou as die hoofkantoor van die National Union of Metalworkers of South Africa. In die oudae het ’n mens ’n bier by die Yard of Ale kom drink. As die partytjie rof geraak het, het jy om die hoek geloop na ’n hotel toe waarvan ek die naam nou vergeet het. Die hotel se kroeg het meer soos ’n sjebien gevoel. Op die een balkon kon ’n mens deur die gapings tussen geboue kyk hoe die son in Fordsburg se rigting ondergaan.

Ek onthou nou nog vaagweg ’n oomblik, dit moes in 1990 gewees het; ek staan op hierdie balkon met die soveelste bier in my vuis, ’n oomblik van stilte, alhoewel die musiek deur die betonvloer dreun. Soms is daar sulke oomblikke in jou lewe wanneer niks eintlik gebeur nie, maar ’n mens het ’n gewaarwording van iets – ’n gevoel, ’n atmosfeer, ’n keerpunt wat nie met bulderende trompette of wapperende vlae aangekondig word nie.

Ek is pas uit die weermag en Nelson Mandela is pas uit die tronk. Die Voëlvrytoer is pas verby. Sal dit heeltemal te melodramaties klink as ek sê dit was ’n duiselingwekkende gevoel van vryheid? Dalk was ek net ’n bietjie aangeklam. Tog is dit vreemd hoe ’n mens jou identiteit aan plekke kan koppel. Vir my het Newtown dus ’n sekere gevoelswaarde.
En hier sit ek nou, amper twintig jaar later, weer in Newtown. “So, wat is jou geheim?” wil ek by die Nederlandse joernalis en skrywer Fred de Vries weet. Ons sit in die restaurant Gramadoelas en praat oor sy jongste boek The Fred de Vries Interviews: From Abdullah to Zille. Fred se veronderstelling is dat elke mens ’n geheim het; iets wat jou ’n sleutel tot die persoon se benadering tot die lewe gee. Die doel van ’n onderhoud is om daardie geheim te ontbloot.

Só maklik gaan Fred my egter nie laat wegkom nie. Die restaurant, wat gewoonlik op ’n weeksaand nogal stil is, is vanaand besonder rumoerig. ’n Groot groep Amerikaners sit skuins agter ons en praat terwyl hulle kou. Dis nie ideale omstandighede vir ’n onderhoud met ’n gesoute onderhoudvoerder nie.
Die bundel bevat 39 onderhoude met mense soos die jazz-maestro Abdullah Ibrahim tot Helen Zille. Maar benewens ’n aantal bekende name word die boek eintlik gekenmerk deur ’n seleksie van mense wat gewoonlik onder die radars van die hoofstroommedia beweeg. Jy ontmoet musikante, skrywers, beeldende kunstenaars en allerlei kulturele aktiviste. Die meerderheid van die onderhoude is voorheen in The Weekender gepubliseer.

Die feit dat Fred Afrikaans verstaan maak dat Afrikaanssprekende persoonlikhede nogal prominent in die bundel is. Hulle oordonder egter nie die landskap, soos die geval in soveel Afrikaanse publikasies is nie. Hulle is oorwegend mense wat tuis is in ’n konteks waar die taal nou staatsbeskerming verloor het en neffens ander tale vir ruimte en hulpbronne moet meeding. Vir my is dit besonder positief dat die bundel onderhoude ’n Engelssprekende gehoor bekendstel aan ’n hele aantal mense wat nie in die stereotiepe beeld van “Afrikaner” inpas nie.
Liefhebbers van Afrikaanse letterkunde sal eweneens die boek insiggewend vind vir die onderhoude met mense soos Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Danie Marais, Kleinboer, Toast Coetzer en Ronelda Kamfer. Dan word daar gepraat met die manne van Fokofpolisiekar, die vroue van Rokkeloos, asook Steve Hofmeyr en Bok van Blerk.

Dis die onderhoude met die skrywers wat ek die meeste geniet het. Is dit dan nie moeilik om onderhoude met mense te voer wat self vaardig met woorde is nie? Fred sê sommige van die onderhoude was meer geslaagd as ander. Sommige mense is baie versigtig oor wat hulle sê. Hy praat oor sy onderhoud met Ingrid Winterbach. Dit het by haar huis plaasgevind. Op ’n vreemde manier maak dit die onderhoud juis moeilik, sê Fred. Soms is dit juis beter om die onderhoud op neutrale grond te doen. Fred dink nie hy het ooit by Ingrid Winterbach se geheim uitgekom nie. Hy wonder hardop oor ’n gesprek wat hy later met iemand gehad het wat haar goed ken. Hulle het gepraat oor die feit dat sy mediteer. Dis iets wat sy nooit genoem het nie. Tog, as ’n mens Die boek van toeval en toeverlaat lees, is daar elemente wat sterk op Zen-Boeddhisme trek.
Hy praat oor die onderhoud met Ronelda Kamfer. Fred voel hy ken die konteks in die Wes-Kaap nie baie goed nie. Sekere kere het sy byvoorbeeld na woonbuurtes verwys wat hy weet ’n spesifieke kulturele betekenis het, maar wat hy nie noodwendig die diepte van kon snap en dus in die onderhoud weergee nie. ’n Mens besef keer op keer dat plekke vir mense ’n diepere betekenis het – dat iets soos Newtown, Distrik Ses, of Manenberg, nie net ’n plek op die landkaart is nie, maar dat daar ’n hele geskiedenis is wat mense se persoonlikhede en identiteite vorm en brei.

Met die meeste van die onderhoude voel ek egter dat ek nogal iets nuuts leer, selfs oor van die persoonlikhede wat ek redelik goed ken. Fred sê as joernalis stel hy meer in mense belang as groot politieke gebeure. So gepraat van identiteite en plekke: Ons praat oor Fred se vorige boek Club Risiko: De jaren tachtig, toen en nu. Dit gaan oor ondergrondse bewegings in Johannesburg, New York, Berlyn, Amsterdam, Ljubljana en Parys. Die gedeelte oor Johannesburg gaan oor die musikale eksperimente van die kunstenaar Neil Goedhals in plekke soos Yeoville en Hillbrow. Sy projek (of band) se naam was Koos. Marcel van Heerden was deel daarvan en hulle het byvoorbeeld hul musiek deur middel van kassette in bruinpapiersakke versprei. Van hierdie opnames is in ’n CD agterin Club Risiko, wat ongelukkig nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Goedhals het later selfmoord gepleeg deur van ’n woonstelgebou in Yeoville af te spring.
Sy volgende boek – sy “labour of love” – gaan oor Sinclair Beiles, die Suid-Afrikaner wat deel van Ginsberg en Burroughs se beat-beweging was, maar wat ’n meer obskure dood in die Johannesburgse Algemene Hospitaal gesterf het.

Hoekom sulke tragiese figure? En vanwaar die obsessie met ondergrondse bewegings? Fred het as student in Nederland in ’n punk band gespeel – Zero-Zero. Die projek het gesneuwel, maar die ondervinding het hom geleer om waardering vir mense te kry wat daarin slaag om kuns te pleeg in ’n konteks waar kommersiële belange belangriker as integriteit is.
Fred noem sy benadering psycho-geography, wat ’n mens seker as psigo-geografie kan vertaal – ’n kombinasie van sielkunde en maniere om die belangrikheid van plekke te verstaan. In Club Risiko het hy gekyk hoe daardie laaste oomblik voor globalisering gewerk het in plekke soos Johannesburg en New York. Dis tye toe jy nie sommer die nuutste ondergrondse projek van die internet kon aflaai nie. Plate is met informele netwerke langs na obskure platewinkels toe aangegee. Mense het oor hul nuwe projekte in saamgeflanste tydskrifte – “little magazines” – geskryf en daaroor gedebatteer.

Suid-Afrika is júis interessant, omdat die mark vir kuns, boeke en musiek soveel kleiner is. Hy sê hy het respek vir mense wat, ten spyte van beperkte geleenthede, steeds maniere vind om ’n lewe te maak. Die briljante skrywer Ivan Vladislavic verdien byvoorbeeld sy brood as redakteur van ander mense se boeke. Die mense in The Fred de Vries Interviews is teenpole vir tragiese figure soos Goedhals en Beiles.
Ek is nie seker of ek daarin geslaag het om Fred se geheim te ontbloot nie. Ek dink ek verstaan beter hoekom hy soos ’n argeoloog tussen Suid-Afrikaanse kunsartefakte rondsnuffel. Dis die blik van ’n buitestander wat ’n mens soms anders na jou eie landskap laat kyk. Hierdie buitestaander skryf met ’n besonder sensitiewe pen oor die mense wat dit die moeite werd maak om in ’n onstuimige land soos Suid-Afrika te woon.

Ek ry huis toe – deur Newtown se donker strate, verby die nuwe social housing by Brickfields, al met Smitstraat langs tot deur Hillbrow, Yeoville, en dan deur die hekke van my gated community in Observatory. Ek wonder oor Fred se psigo-geografiese perspektief op mense en plekke. Ek wonder oor daardie oomblik van vryheid jare gelede op die balkon van die hotel in Newtown. Hoe moet ek nou daaroor nadink?
Tot nou toe het ek vryheid oorleef. Dis moeilik om enigiets met integriteit te doen in ’n land met soveel teenstellings. Gelukkig is daar ’n hele aantal interessante mense wat steeds probeer en darem oorleef in die proses. En nou is daar ’n bundel met onderhoude wat hierdie konstante proses van onderhandel op ’n besonder sensitiewe wyse weergee.
Andries Bezuidenhout

 

Please register or log in to comment